8 November 2008

Voorbereiding

Ek het vandag vir my kleding bekom vir my uitruilskema na Duitsland hierdie Desember. Ek en my moeder is na “Treasures from Germany” in Hoofstraat in Kaapstad, waar ek vir my waterdigte bergklimskoene gekry het teen R300. Daarna is ons na Cavendish Square waar ons by Cape Union Mart onderklere, ‘n moon bag, en ‘n sneeubaadjie gekoop het. Die onderklere was “thermal underwear” (a.k.a. longjon met accompanying top) teen R360 en die sneeubaadjie was R1 000. Ek moet sê, die sneeubaadjie is nogals ‘n ordentlike ene. Hopelik kan dit al my warmklerebenodigdede daar anderkant bevredig.

Ons is daarna na Coats for Africa in die hoop dat ons ordentlike Europese jasse sou  kon kry… maar ja, om reguit te wees was daar net “crap” – baadjies en goeters wat ek nie dink mense vir die afgelope veertig jaar gedra het nie. En daar was so paar patetiese jassies wat nie eens ‘n persoon van ‘n Kaapse somerswind kon warmhou nie. So toe skrap ek maar die jas-idee.  Ek kan mos maar met my all-purpose k-way sneeubaadjie orals daar bo rondloop.

Ná hierdie uitstappie was ek en my moeder nogals redelik uitgeput, en het ons vir ‘n heerlike verfrissing by ‘n kafee op die hoek van die uitgangspunt van Cavendish gegaan. Ek het ‘n aarbeiesmoothy gevat, en my ma ‘n koffie. Wat eienaardig was, was dat die kafee geen menu’s gehad het nie. Seker omdat dit die heeltyd wegwaai – het my ma opgemerk. Selfs die klein driehoekige spyskaartjie wat op die tafelblad vasgegom was, het afgewaai terwyl ons nog so daar gesit en chat het. Maar die smoothy was darem verskriklik verfrissend en smaaklik.

Ek sien uit daarna om gegear daar anderkant uit te kom. Dit gaan pret wees.